Hannes van Wyk – sê groete vir Ma

Vir die eerste keer in baie jare betree Hannes van Wyk weer alleen die verhoog met ‘n splinternuwe eenmanstuk, SÊ GROETE VIR MA.

Hannes vertolk die rol van Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe, menswees en bestaan om die een vrou draai wat hom in die lewe gebring het. Dit is ‘n drama waar die lag en die traan baie naby aan mekaar loop: die band tussen ‘n ma en haar kind, hulle lewensreis saam, die pyn en onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is.

Dit vertel die storie van Reghardt se vormingsjare (‘n sensitiewe kind wat op ‘n plaas moet grootword en die dinge van manwees en “man word” gou moet kop), sy pa, sy nie- so- slim broer, Dewaldt en sy veerpoothoender, Knoop, wat hom van die dood geleer het en die pyn en vernedering van tiener-wees.

Dis ‘n tipe knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge waarmee die meeste mense hul kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die bleddie getik-tok van die klok wat niemand die aardigheid van oudword (en dan ook siekte) spaar nie.

Dit is ‘n storie vir elke lid van die gesin en beloof om te sorg vir humor, maar ook lag met ‘n traan. Elkeen wat ‘n ma het, gehad het of sélf ‘n ma is, moet hierdie langverwagte teaterstuk sien.

Beleef Hannes, gesoute akteur gekombineer met Sjef Mynhardt se hartskos uit sy kombuis, in jou reis na gister, wat jou nog lank gaan bybly.

Plek: KWV Katedraal Kelder (Kohlerstraat) Suider Paarl

Datum: 29 Augustus 2019

Tyd: 18h30 vir 19h00

Prys: R250 per persoon (geen bespreekte sitplekke)

Kaartjies te koop by Computicket

Hier kan julle kyk na ‘n insetsel oor die stuk wat by die Innibos kunstefees gedebuteer het.