Die Mense Maak Die Huis – Vrouekeur Tydskrif

Glanssjef Mynhardt Joubert wys sy blyplek in die Paarl waar hulle groot makieties hou
– Deur MARYKE ROBERTS Foto’s JAC KRITZINGER. 8 Desmber 2017

Die glanssjef Mynhardt Joubert, wat die eerste reeks van Kokkedoor saam met Tiaan Langenegger gewen het, is nou die handelsmerkambassadeur vir KWV. Mynhardt en Ian Engelmohr bly in ’n groot dakwoonstel in die Paarl. Ian is bedags ’n geoktrooieerde rekenmeester by die Paarl-munisipaliteit en as die son sak, ’n keramiekkunstenaar. Die gebou is meer as ’n eeu oud en van buite is dit ’n statige dame, maar binne is dit ’n ware kleurespel waar jou gemoed sommer lig voel.

Mynhardt vertel dat hy sy hele lewe tot ongewone en interessante ruimtes aangetrek is. “Hierdie is die tweede dak waarin ek woon en voor hierdie een het ek in omskepte vark- en hoenderhokke
op die plaas Lemoenfontein in die Paardeberg gebly.”

Bouwerk

Die meeste van die gebou se opknapping was afgehandel toe Mynhardt na die woonstel kom kyk het, maar hy kon saam met die ontwikkelaar die uitleg binne die dakvertrekke soos die spens, badkamer en waskamer voltooi. Maar dit was ’n geleidelike, moeilike proses om dit heeltemal leefbaar te maak. Mynhardt vertel: “Dit was soms vreeslik frustrerend, aangesien hier net een klein wasbakkie en ’n toilet was; die res van die loodgieterswerk was nog nie voltooi nie. Ons twee het vir drie maande lank elke oggend die binnekant van die gim gesien … en dit was nie om te oefen nie!”

Dekorwaarhede Mynhardt glo die mense maak die huis. “Geen strooikussing gaan jou gelukkig maak nie. ’n Mens begin mettertyd goed nadertrek wat jou aan mense en plekke en dinge herinner en bou sulke klein ‘tempeltjies’ om daardie hartsmense en ervarings se goeters.” Mynhardt sê die belangrikste is om nie bang te wees nie. As jy ’n muur turkoois wil verf met ’n rooi
rak daarvoor omdat dit vir jou mooi klink, doen dit. “Uiteindelik is dit ’n gevoel van selfversekerdheid wat mense in ’n ruimte aantreklik vind. Die waagstukke raak geselspunte en die ongewone word die nuutste neiging,” sê hy.

Gunstelingvertrek

Vir albei is die kombuis hul gunstelingplek. Almal haak daar vas. En die deur staan altyd oop. Mynhardt vertel: “Om my kombuistafel is daar ’n konstante vloei van mense en gesigte, stories, gelag, trane, seer voete en harte en die warm arms en harte van vriende. Hier word wyn gedrink – soms te veel – en lekker geëet en gekuier, versorg en versterk. Ek is mal daaroor en sal dit vir niks verruil nie.”

Hartsgoed

Die sentimentele goed in hul huis is ’n kwilt wat Mynhardt se sussie en haar vriendin in die Oos-Vrystaat vir amper ’n jaar lank met die hand aanmekaargewerk het. Ian en Mynhardt slaap elke aand daaronder. Ook ’n lappieskombers van sy tannie Alice, sy ouma se foto’s en handgeskrewe resepte wat hy laat vergroot en op skilderdoek laat druk het en houtkiste wat hy uit Lesotho gebring het. En dan is daar natuurlik die fotomuur met hartsmense se foto’s.

“Hier seil ons voort op ’n ontdekkingsreis deur die wêreld. Soms is die waters kalm en soms baie stormagtig daarbuite, maar dis altyd veilig aan boord” – Mynhardt

Lewenstylaanpassing

Om van ’n plaas na ’n dakwoonstel in die dorp te trek, kon nie maklik wees nie. Mynhardt sê dat dit in elke rigting waarin jy op die plaas gekyk het, mooi was. Onbewustelik het hy ook besluit om dit hier in sy nuwe dak te doen. “Waar ek kyk, is dit vir my mooi en kry ek lekker om na dinge te kyk. Soms sit en staar ek net vir ure na die lig wat by my voordeur inval en die stories wat dit vertel. My lewe het baie praktieser geword en dis heerlik.”

Gunstelingkleur en -materiaal

Mynhardt was nog altyd versot op blou, maar deesdae het groen ’n magiese aantrekkingskrag vir hom. En herwonne materiale maak hom opgewonde. Mynhardt en Ian is nie groot
kopers nie, hulle hou eerder van ruil of onderhandel; om op te tel en af te stof; dalk te verf en te hergebruik.

Woon en werk

Mynhardt vertel: “Die ruimte is só mooi en alternatief dat ons besluit het om dit met mense te deel en ek het begin om mense hier vir etes te ontvang. Groepe van tien tot dertig kan aansit vir ete en dan word daar feesgevier. Daar is niks lekkerder vir my as om mense met regtig goeie kos en wyn te bederf nie. Mense bespreek gewoonlik so ’n week vooruit en dan kook ons vir hulle. Dis so lekker om ons huis met mense te kan deel en ewe skielik voel dit glad nie soos werk nie. Daar is ’n groot seën daarin om mense met liefde en gasvryheid te ontvang; dit maak jou hart en siel ryk.” As die egpaar terugkyk, is daar niks wat hulle sou wou verander nie. Mynhardt sê hul huis voel soos sy skip. “Hier seil ons voort op ’n ontdekkingsreis deur die wêreld. Soms is die waters kalm en soms baie stormagtig daarbuite, maar dis altyd veilig aan boord. My hart is op meer as een manier hier geanker.” Vk